Welcome, Guest. Login / register for a free account  

Blouvlag – Status vir 27 Strande

4 November, 2010 at 6:24 pm in Garden Route News

Blouvlag – Status  vir 27 Strande

blouvlag strande

Hier kuier die minister saam met die dorp se burgmeester, raadsdame Marie Ferreira (tweede van links), voorsitter van die Mosselbaai Besigheidskamer, mnr Pierre Venter (regs) en bestuurslid en sakevrou Marieka Thomatos (tweede van regs).

Minister van Toerisme Mnr.Marthinus van Schalkwyk besoek Mosselbaai

Mosselbaai het gasheer gespeel toe altesaam 27 strande in 11 kusgebiede landwyd verlede Donderdag Blouvlag-status vir die 2010/2011 seisoen tydens ‘n seremonie op Santosstrand ontvang het. Die oorhandiging het saam met die tiende herdenking van die Blouvlag-program in Suid-Afrika geval. Die minister van Toerisme, mnr Marthinus van Schalkwyk en me Sophie Bachet van Denemark, die internasionale programbestuurder van Blouvlag, het die vlae aan die verteenwoordigers van die verskillende munisipaliteite oorhandig.

27 strande in 11 kusgebiede ontvang Blouvlag-status.

“Ons skop ook vandag met die aankondiging van die Blouvlagstrande die somerseisoen amptelik af” het hy gesê en bygevoeg dat Suid-Afrika, wat 10 jaar gelede die eerste nie-Europese land was wat by die Blouvlag-program ingeskakel het, vandag deel is van bykans 4 000 strande in meer as 42 lande. Altesaam 27 strande in 11 kusgebiede landwyd verlede Donderdag Blouvlag-status vir die 2010/2011 seisoen ontvang. “Die Blouvlag-status van ‘n strand gee vir toeriste gemoedsrus oor faktore soos watergehalte, skoon ablusiefasiliteite en veiligheid en dra beslis by tot verhoogde inkomste van die area. Die beleggings wat kusowerhede dus maak om die Blouvlag-vereistes te opsigte van kwaliteit en akkreditasie na te kom, is beslis dubbel en dwars die moeite werd” het hy bygevoeg.

Die minister het ook bekend gemaak dat toerismesyfers vir  die eerste sewe maande van die jaar (in vergelyking met dieselfde tydeperk gedurende 2009) toon dat daar ‘n toename van 18,1% in buitelandse besoekers was. Die syfer is 4,5 miljoen teenoor 3,8 miljoen vir dieselfde tydperk verlede jaar. Blouvlag status vir Suid Afrikaanse Strande Mosselbaai het die status vir twee van sy strande, naamlik Santos en Hartenbos behou en die gesogte vlae sal vir die tweede seisoen op die plaaslike strande wapper. Die Hessequa munisipaliteit spog ook met twee Blouvlag- strande, naamlik Lappiesbaai (sesde keer) en Witsand wat vanjaar
vir die eerste keer hierdie status verwerf het.

In die Bitou distrik het Robbergstrand sy status behou. Op Blouvlag-vlak spog beide Kaapstad en KwaZulu Natal met ses strande elk.
Die minister het op ‘n ligte noot geskerts dat die verteenwoordigers van KwaZulu Natal baie welkom is op Santosstrand, maar dat hy nie dieselfde van hulle op die rugbyveld kan sê nie! ‘n Gegoede korswel het uitgebreek toe ondersteuners van onderskeidelik die Stormers en die Haaie met geesdrif hul spanne se name uitgeskree het. Die minister het vinnig bygevoeg dat hy weens
sy nasionale verteenwoordigheid nie ‘n gunsteling gaan aankondig nie!

Die burgmeester van Mosselbaai, raadsdame Marie Ferreira, het vertel hoe trots hulle op die Blouvlag-status is. “Benewens die prominensie wat die status aan toerisme gee, is my Raad ook in hul skik met die geleentheid wat deelname aan so ‘n elite program ons bied om bydraes tot die volhoubare ontwikkeling van ons natuurlike erfenis, naamlik ons strande te maak” het sy gesê en bygevoeg dat sy elke keer ‘n warm gevoel kry as sy die pragtige Blouvlae op Santosstrand en Hartenbos sien wapper.

Sy het dan ook al die aanwesiges genooi om getrou aan die dorp se motorregistrasie CBS te bly, naamlik:  Come Back Soon! Volgens die voorsitter van Mosselbaai Toerisme, mnr Neels Zietsman, speel Mosselbaai se strande ‘n groot rol in die dorp se gewildheid as
vakansiebestemming. “Die dorp is vanjaar weer as die Wes-Kaap se gunsteling dorp aangewys en ek glo dat ons kuslyn en die kwaliteit van ons strande hier van deurslaggewende belang was” het hy bygevoeg. Hy het ook die plaaslike munisipaliteit geloof vir hierdie belangrike bydrae tot toerisme en bewaring deur die streng vereistes van die Blouvlag-program te ondersteun en na te
kom. Op Mosselbaai sorg mnr Abrie Nel dat al die streng reëls en regulasies noukeurig nagekom word sodat Mosselbaai met trots sy Blouvlag-status kan handhaaf en behou. Die status word jaarliks hersien en strande moet hard
werk om dit te behou.

Tags : , , , Print This Post

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.