Kalahari Restaurant en Teater op George
4 November, 2010 at 10:08 pm in Garden Route News
Kalahari Restaurant en Teater op George
Groet die Grotman Vrydag 5 en Saterdag 6 November by Kalahari Teater
Grotman slaag daarin om `n diepgewortelde universele senuwee te raak – die verskille tussen mans en vrouens – en hierdie senuwee word op komiese wyse uitgebeeld!

“ Ek is die grotman! Ek is die jagter! En alle mans is nie poepholle nie! Of is hulle?”
Ons sien julle by Groet die Grotman by die KALAHARI-TEATER!
REKORD VIR AFRIKAANSE TEATER
Frans Swart, die vervaardiger van GROET DIE GROTMAN sê om HONDERDE vertonings in Afrikaanse teater te doen, is beslis ‘n rekord. “Dit is wonderlik dat Grotman ook hierdie rekord behaal het en ons hele span is baie dankbaar dat dit steeds so goed gaan met Grotman. Ek is my hele lewe in die vermaaklikheidswêreld en nog nooit het ek soiets beleef nie. Gehore kom steeds om Grotman te sien en te beleef. En wat ook lekker is, is dat mense vir ‘n tweede en derde keer kom kyk en elke keer bring hulle nuwe vriende en familie saam om hierdie besondere produksie te sien. Dit is interessant dat in Amerika kan sielkundiges en beraders DEFENDING THE CAVEMAN aan paartjies voorskryf en kan hulle dit van hul mediese fonds eis!”
Op 1 Augustus 2005 open GROET DIE GROTMAN by Carnival City se Mardi Gras Teater en nou bykans vyf jaar en honderde vertonings later, is GROET DIE GROTMAN nog net so gewild en in aanvraag. Die produksie is in van ons land se grootste teaters soos KunsteKaap, die Staatsteater, die Sand du Plessis Teater opgevoer, maar ook by Kunstefeeste oral in die land. Koos Kombuis het Rob Becker se DEFENDING THE CAVEMAN in Afrikaans vertaal en verwerk en Sandra Prinsloo behartig die regie.
Hannes Muller het sy 500ste opvoering van GROET DIE GROTMAN in die Sudwala Grotte naby Nelspruit gevier. Dit was die eerste keer in die wêreld dat‘n produksie van Rob Becker se Broadway-treffer in ‘n regte egte grot opgevoer is.
WAARHEDE VIR MANS & VROUENS
Hannes Muller wat reeds die rol van Die Grotman die afgelope VYF jaar vertolk sê dat hy baie bly is dat hierdie besondere prestasie in ‘n ware en werklike grot gevier kon word. “Dit was so spesiaal . Grotman soos hy in sy eie Grot nog nooit gesien is nie. Ek en die Grotman leef alreeds die afgelope vyf jaar met mekaar saam en ek moet sê dat elke aand steeds nuut en vars is – ek ontdek steeds elke aand iets nuuts van die Grotman en ook van die wonderlike gehore,” sê Hannes. “Die teks is so goed en na vyf jaar het ek dit werklik my eie gemaak – die Grotman bring soveel waarhede vir mans en vrouens. En die krag van die produksie lê in die feit dat dit so lekker op komiese wyse oorgedra word.” Hy noem ook dat hulle reeds Suid-Afrika deurkruis het met Grotman. “Ons het werklik al op van die kleinste plekkies in ons land gespeel en dit is vir my ‘n heerlike ondervinding om al die plekke te sien en ook om die wonderlikste mense te ontmoet.”
SANDRA UITSTEKEND AS REGISSEUR
Sandra Prinsloo sê sy was aanvanklik maar skrikkerig om as vrou die regie vir GROET DIE GROTMAN aan te pak. “Maar Rob Becker en Koos Kombuis het vir my so ‘n wonderlike teks gegee om mee te werk dat dit net een groot plesier was. Hannes Muller is ‘n besondere talentvolle akteur en hy het beslis ‘n groot aanleg vir die komiese en ek is werklik baie trots op Hannes met sy vyfhonderdste vertoning – ek glo daar gaan nog 500 wees!” sê Sandra.


